KONSEP
DEPARTEMENT VAN OMGEWINGSAKE EN TOERISMETAK MARIENE-EN KUSBESTUUR
BELEID AANGAANDE DIE TOEKENNING EN BESTUUR VANKOMMERSIëLE VISVANGREGTE IN DIE DIEPSEE STOKVIS-
TREILVANGSVISSERY: 2005
INHOUDSOPGAWE
Inleiding ... 3
Sektorale profiel ... 4
Die proses van medium-termyn regtetoekenning ... 5
Oorkoepelende sektorale doelwitte... 5
Tydsduur ... 6
Nuwe inkomelinge ... 7
Evaluasiekriteria ... 8
Uitsluitingskriteria ... 8
Vergelykende balanseringskriteria ... 9
a Transformasie ... 9
b Belegging in die vissery ... 10
c Prestasie ... 10
d Waardetoevoeging ... 10
e Werksgeleenthede ... 11
f Byvangste ... 11
g Omgewingsvolhoubare praktyke ... 12
h Plaaslike ekonomiese ontwikkeling ... 12
i Visvangheffings wat nie betaal is nie ... 12
Kwantumkriteria ... 13
Geskikte vaartuie ... 13
Multi-sektorale betrokkenheid ... 14
Aansoekgelde en heffings ... 14
Ekosisteembenadering tot bestuur van die vissery ... 15
Konsolidasie van deelnemers ... 15
Vaartuie en vangspogings ... 16
Prestasiemeting ... 17
Waarnemersprogram ... 17
Permitvoorwaardes ... 17
Inleiding
Hierdie dokument is 'n konsepbeleid vir openbare kommentaar oor die toekenning en bestuur van kommersiële visvangregte in die diepsee stokvis-treilvangsvissery (of diepse stokvis-treilvissery) soos uitgereik deur die Departement van Omgewingsake en Toerisme: Tak Mariene-en Kusbestuur ("die Departement") Die konsepbeleid moet saamgelees word met die Konsep van die Algemene Beleid aangaande die Toekenning en Bestuur van Langtermyn Kommersiële Visvangregte: 2005 ("die Algemene Visvangbeleid"). Belanghebbende en geaffekteerde partye mag skriftelik kommentaar indien by die Departement teen 4 April 2005. Opermkings wat na hierdie datum ontvang word sal nie in aanmerking kom nie. Kommentaar moet as volg ingedien word:
Die doel van hierdie beleid is om die oorwegings van toepassing op die toekenning van langtermyn kommersiële visvangregte vir die diepsee stokvis-treilvissery uiteen te sit. Min van hierdie oorwegings is nuut. Hulle is in die verlede deur die Departement gebruik by die toekenning van regte. Hierdie beleid verteenwoordig tewens 'n dokumentasie van sodanige oorwegings.
Sekere voorgenome bestuursbeleidsrigtings verskyn ook in hierdie konsepbeleid. 'n Bestuurshandboek vir die Diepsee Stokvis-treilvissery sal met al die regtehouers in die loop van 2006 gefinaliseer word. Hierdie handboek sal in die fynste besonderhede die toepaslike bestuursmetodes en -prosedures vir die bedryf uitstippel.
Die Minister van Omgewingsake en Toerisme is voornemens om artikel 18-magte, in terme waarvan kommersiële visvangregte van die diepsee stokvis-treilvissery toegeken word, ingevolge artikel 79 van die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne 18 van 1998 ("die WLMH")
aan 'n senior beampte van die Departement te delegeer..
Sektorale profiel
Die diepsee treilvissery is sedert die aanvang daarvan in 1890 Suid-Afrika se belangrikste en finansieel mees winsgewende vissery. Tot 1978 was hierdie vissery hoofsaaklik ongereguleerd en deelnemers is nie beperk tot maksimum vangsperke nie. Sedert 1978 is die stokvis-treilvissery bestuur ingevolge 'n jaarlikse totale toelaatbare vangs (TTV) wat merkwaardig stabiel gebly het. Tussen 1978 en 2004 het die TTV gewissel tussen 140 000 ton en 133 000 ton . Negentig persent van alle stokvis-treilvangste bestaan uit diepsee stokvis. Die orige tien persent beslaan vlak-water stokvis en byvangste van koningklip, monniksvis en ander spesies. Die diepsee stokvis se treilervisserygebied is geleë aan die Kaapse wes-en suidkus. Treilvissery word hoofsaaklik gefokus op drie visvanggebiede geleë op dieptes van meer as 110 meter (minstens 20 myl van die kus af).
Die Departement bestuur die diepsee stokvis-treilvissery as deel van 'n "stokvis-kollektief". Ingevolge die WLMH word 'n globale TTV vir alle stokvis jaarliks deur die Minister van Omgewingsake en Toerisme vasgestel. Van die globale TTV word 83 persent van die TTV aan diepsee stokvis-treilvissery toegeken. Die res word gedeel deur die langlyn-, handlyn-en kustreilvissery. Tot 2004 is 1 000 ton opsy gesit vir buitelanders. Hierdie toekenning sal gestaak word.
Die diepsee stokvis-treilvissery onderhou ongeveer 8 800 regstreekse werksgeleenthede langs Suid-Afrika se wes-en suid-oostelike Kaapse kus. Uit hierdie werksgeleenthede word 90 persent gevul deur persone uit histories benadeelde gemeenskappe, terwyl vroue 40 persent van die werkers uitmaak. Werksomstandighede in die diepsee stokvis-treilvissery word beskou as beter as in ander visserye. Die meeste van die werknemers word op voltydse, jaar-uit basis in diens geneem met vasgestelde salarisse en indiensnemingsvoordele. Die gemiddelde jaarlikse inkomste van die bemanning (insluitende die kaptein) is R63 000 per jaar. Baie van die groter diepsee treilvisvangmaatskappye is geregistreer by die "Trots Suid-Afrikaans"-veldtog wat hulle verbintenis tot nasiebou-inisiatiewe en billike arbeidspraktyke bevestig.
Die diepsee stokvis-treilvissery is 'n uiters kapitaal-intensiewe vissery. Bestaande deelnemers het aansienlike beleggings in vaartuie sowel as prosesserings-en bemarkingsinfrastruktuur gemaak. Die totale waarde van bates in die vissery word op meer as R700 miljoen geskat. Die markwaarde van die jaarliks gelande vangste is ongeveer R1,4 biljoen. Hoewel vaartuie so klein as 30 meter lank in die vissery gebruik word, is 66 persent van diepsee treilers tussen 45 meter en 50 meter lank. Vaarte duur van minder as 'n week tot meer as 30 dae.
Die proses van medium-termyn regtetoekenning
In 1992 het die vyf grootste maatskappye in die vissery 92 persent van die TTV beheer. In 2004 het die vyf grootste maatskappye, minder as 75 persent van die stokvisbronne gedeel. Net so belangrik, is dat in 1992 die kleinste kwota 50 ton was en die grootste 53 000 ton. Tien jaar later is die kleinste kwota 336 ton en die grootste 45 000 ton. Die verskil tussen die kleinste en die grootste toekennings raak dus kleiner.
Die "interne" transformasie van die tradisionele maatskappye en die toetrede van maatskappye in swart besit en onder swart bestuur sedert 1992 het gelei tot 'n aansienlik verbeterde transformasieprofiel in hierdie bedryf. Inligting oor medium-termyn toekennings dui daarop dat:
persent van die huidige deelnemers in swart besit en onder swart bestuur is:
persent is ondernemings van klein of medium formaat;
persent van die TTV word deur maatskappye in swart besit gehou in was dit nul persent.
Oorkoepelende sektorale doelwitte.
Om die internasionale beeld van die Suid-Afrikaanse diepsee stokvis-treilvissery in stand te hou en te ontwikkel, sal daar ag geslaan word op Suid-Afrika se verpligtings op nasionale, streeks-en internasionale vlakke wanneer visvangregte toegeken word. Hieronder tel die behoefte om die langtermyn volhoubare gebruik van stokvisvoorraad te verseker en om al die bekende impakte op die mariene ekosisteem wat deur treilvissery beïnvloed word, te bestuur. Dit sluit in maatreëls wat byvangste voorkom en verminder.
Ander, ewe belangrike, oorkoepelende doelwitte by die toekenning van langtermyn visvangregte in hierdie vissery is om:
die transformasieprofiel van die diepsee stokvis-treilvissery te verbeter;
weer die TTV onder die regtehouers te versprei ingevolge transformasiekriteria en kriteria wat daarop mik om ondernemings van klein en medium formaat ("KMO's") wat hul permitvoorwaardes nagekom het, te beloon;
medium-termyn regtehouers met swak of geen prestasierekords of met geen belegging in, of betrokkenheid by die vissery, uit te sluit;
n belegging-en werkskeppingsvriendelike omgewing te skep; en die ekonomiese lewensvatbaarheid en omgewingsvolhoubaarheid van die vissery te ondersteun.
Tydperk
Met inagneming van die transformasieprofiel van die vissery
die kapitaal-intensiteit van die vissery;
die feit dat deel van die diepsee treilervloot verouderd is en vervang moet word;
die aantal voltydse werksgeleenthede van gehalte wat voorsien word; die behoefte om ekonomiese stabiliteit in stand te hou en internasionale mededinging van die vissery te verhoog; en die feit dat die diepsee stokvisbron goed betroubare en lopende data, bestuur word ingevolge is die Departement voornemens om kommersiële regte vir 'n tydperk van 15 jaar (1 Januarie 2006 tot en met 31 Desember 2020) toe te ken en, onderworpe aan hersiening op gereelde grondslag teenoor voorafbepaalde prestasiekriteria, soos die bereiking van ooreengekome transformasiedoelwitte (sien verder paragraaf 12 hier onder)..
Nuwe inkomelinge
Die diepsee stokvis-treilvissery het tans te veel deelnemers. Die onlangse hoë vlak van bevisting vereis dat 'n konserwatiewe bestuursplan toegepas word. Hierdie bestuursplan, wat oor die afgelope drie jaar toegepas is, vereis 'n geleidelike afname in die TTV.
Hoewel geen bykomende deelnemers toegelaat sal word tot die diepsee stokvis-treilvissery nie, sal nuwe inkomelinge se aansoeke tog oorweeg word. Huidige regtehouers wat nog nie die transformasiedoelwitte in werking gestel het waartoe hulle hulself verbind het in hulle onderskeie medium-termyn regte-aansoeke en wat nog nie belê het in, of betrokke geraak het by die vissery oor die medium-termyn tydperk nie, kan vervang word deur 'n geskikte nuwe inkomeling. Nuwe inkomeling-aansoekers sal regte ontvang indien hulle wesenlik getransformeerd is in verband met beide eienaarskap en bestuur;
nie as fronte vir ander maatskappye optree nie;
onmiddellike toegang het tot geskikte vaartuig/vaartuie en tot die nodige kapitaal om 'n diepsee stokvis-treilvissery te finansier.
Evaluasiekriteria
Alle aansoeke sal ingevolge 'n stel "uitsluitingskriteria" gesif word. Nuwe aansoekers en vorige regtehouers se aansoeke sal daarna apart nagegaan word volgens 'n stel gelaaide "vergelykende balanseringskriteria". 'n Afsnypunt vir telling of rang sal dan vasgestel word ten einde die suksesvolle aansoekers te kies. 'n Gedeelte van die TTV sal dan aan elk van die suksesvolle aansoekers toegeken word ingevolge 'n stel "kwantumkriteria".
Uitsluitingskriteria
Behalwe die kriteria beskryf in die algemene beleid met betrekking tot die onbehoorlike indiening van die aansoeke en wesenlike tekortkominge, sal die Departement aansoekers uitsluit wat versuim om aan die volgende vereistes te voldoen:
a Vorm van die aansoeker: Slegs aansoeke van entiteite geïnkorporeer ingevolge die Wet op Beslote Korporasies, Wet 69 van 1984 en die Maatskappyewet, Wet 61 van 1973 sal in aanmerking kom. Aansoeke van natuurlike persone d w s individue of eenmansake en trusts sal nie oorweeg word nie.
b Wetsnakoming: Visvangregte vir diepsee stokvis-treilvissery sal nie toegeken word nie aan regtehouers, insluitende die direkteure of beherende aandeelhouers wat skuldig bevind is aan 'n misdryf ingevolge die WLMH sonder die opsie om 'n boete te betaal, die Seewet, die Konvensie, deklarasie of verdrag van CCAMLR, of die bepalings van enige ander land se mariene en/of vissery se wette. Regte sal ook nie toegeken word nie aan regtehouer-aansoekers, insluitende die direkteure of beherende aandeelhouers wie se visvangregte gekanselleer, opgeskort of ingetrek is ingevolge die WLMH.
Besluite sal voorbehou word op aansoeke van regtehouers wat ondersoek word vir oortredings van die WLMH. 'n Besluit sal geneem word nadat die ondersoek afgehandel is.
Die Departement verwag dat elke regte-houer 'n heffing betaal op die teikenspesies van visvangste. 'n Aantal regtehouers het òf nog nie heffings betaal nie of nie die hoeveelheid van die vangste korrek aangemeld nie om daardeur onder andere die betaling van heffings te vermy. Laasgenoemde sal uitgesluit word. Eersgenoemde sal gepenaliseer word in die vergelykende balanseringsproses soos hier onder uiteen gesit. Sou sodanige aansoeker egter nietemin vir 'n reg kwalifiseer sal 'n visvangpermit nie uitgereik word ni,e alvorens die uitstaande heffings (plus rente) by die Departement betaal is.
Papier-kwota's: Papier-kwota's soos uiteengesit in die Algemene Beleid, sal uitgesluit word.
Toegang tot 'n geskikte vaartuig: Aansoekers sal moet aantoon dat hulle 'n reg van toegang tot 'n geskikte vaartuig het (sien verder paragraaf 8 hier onder vir die definisie van 'n geskikte vaartuig).
Vergelykende balanseringskriteria
Aansoekers wat regte hou asook potensiële nuwe inkomelinge sal evalueer word ingevolge die volgende balanseringskriteria en die aansoeke sal dan opgeweeg word teen mekaar ten einde die sterkte van elke aansoek te bepaal.
aTransformasie Een van die Departement se doelwitte tydens die proses om langtermyn visvangregte in hierdie vissery toe te ken, is om die huidige vlakke van transformasie te verbeter. Soos deur die Algemene Visserybeleid vasgestel sal die aansoekers evalueer word volgens -
Die persentasie swart persone en vroue wat op eienaarsvlakke en uitvoerende bestuursvlakke verteenwoordig is;
Of werknemers aandeelhouers van die aansoeker is en die voordele wat hulle hieruit kry;
Regstellende aankope;
Die aantal swarte persone en vroue op die verskillende vlakke benede uitvoerende bestuur;
Wetsnakoming aan die Wet op Diensbillikheid, Wet 55 van 1998; en
Korporatiewe maatskaplike belegging.
b Belegging in die vissery
Met betrekking tot bestaande regtehouer aansoekers sal die Departement die volgende spesifiek in aanmerking neem:
Beleggings in geskikte vaartuie. In hierdie verband sal beleggings in die vorm van aandeelhouding in aanmerking geneem word. Aansoekers wat regte hou sal nie beloon word vir die aangaan van huurooreenkomste, vangste-ooreenkomste of koopkontrakte nie;
Beleggings in prosesserings-en bemarkingsinfrastruktuur. In hierdie verband sal die Departement regtehouers wat in stokvisprosesseringsfabrieke en bemarkingsinisiatiewe belê het beloon.
Betreffende nuwe aansoekers, sal die Departement oorweging gee aan beleggings gemaak in die vorm van vaartuie, prosesserings-en bemarkingsinfrastruktuur. Verder sal nuwe aansoekers moet aantoon dat hulle die kennis, vaardigheid en vermoë het om aan die diepsee stokvis-treilervissery te kan deelneem.
c Prestasie
Regtehouer-aansoekers wat aansienlike hoeveelhede minder of meer as hulle toekennings gevang het (meer as 10 persent van hulle toekennings) gedurende die medium-termyn tydperk sal gepenaliseer word. Finansiële prestasie sal gemeet word soos in die Algemene Visserybeleid aangedui.
d Waardetoevoeging
Die Departement sal die vermoë van regtehouers om waarde tot die stokvis toe te voeg met prosessering in aanmerking neem. Van nuwe inkomeling-aansoekers sal verwag word om aan te dui hoe hulle voornemens is om die maksimum waarde by stokvis toe te voeg deur middel van prosessering.
e Werksgeleenthede
Die diepsee stokvis-treilervissery verskaf ongeveer 8 800 werksgeleenthede van gehalte. Salarisse is gemiddeld R63 000 per jaar vir werknemers wat seevarend is.
Aansoekers wat werknemers voorsien het van, of van voorneme is om die volgende te voorsien -
Voltydse indiensneming;
Mediese bystand en pensioen;
Enige ander indiensnemingsvoordele; en
Veilige werksomstandighede, sal positief evalueer word.
In die geval van regtehouers sal werksgeleenthede geskep word per ton vis, toegeken gedurende die medium-termyn toekenningsproses bepaal word en in aanmerking geneem word.
Die Departement sal ook die loonverskille tussen die hoogste en laagste besoldigde werknemers in aanmerking neem.
f Byvangste
Die Hoeveelheid byvangste wat deur deelnemers aan die diepsee stokvis-treilvissery geland word bly 'n bron van kommer vir die Departement. Die teiken van hoë-waarde byvangspesies soos koningklip (Genypterus capensis) en monnikevis (Lophius vomerinus), is veral kommerwekkend. Huidige vangskoerse dui daarop dat vangste van albei spesies nie volhoubaar is nie. Koningklip-talrykheid aan die suidkus is veral baie laag.
Die Departement het bepaal dat die maksimum jaarlikse byvangs vir koningklip tot 3 000 ton beperk word en dié vir monnikevis tot 7 000 ton. Hierdie byvangs-toelating is van toepassing op die stokvisbedryf as geheel. Bestaande regtehouer aansoekers sal moet demonstreer watter byvangstempering en verminderingsmaatreëls hulle in werking gestel het , of in die geval van nuwe aansoekers, watter metodes hulle sal toepas om te verseker dat hulle sal voldoen aan bogenoemde byvangsbeperkings. Die Departement sal ook in ag neem watter maatreëls ingestel is of ingestel sal word om byvangste van snoek (Thyrsites atun) te verminder.
g Omgewingsvolhoubare praktyke
Dit is bekend dat treilvissery skade aan die seebodem berokken. Tot op datum is daar te min data om beskikbaar om sodanige skade te kwantifiseer. In terme van die voorsorgbestuursbeginsel sal die Departement daardie aansoekers beloon wat die volgende metodes van treilvisvangste reeds beoefen of wat aandui hoe hulle dit sal beoefen
Aansienlike vermindering van skade aan die seebodem; en
Meer energie-en brandstof-doeltreffendheid (ook van toepassing op prosesseringsfabrieke).
h Plaaslike ekonomiese ontwikkeling
Die Departement sal aansoekers (veral kleiner regtehouers en nuwe aansoekers) bevoordeel wat verkies om hulle vangste te land en te laat prosesseer in sentrums buite die groter metropolitaanse gebiede soos Port Elizabeth en Kaapstad. Dit sal egter nie lei daartoe dat die groter regtehouers van diepsee stokvis-treilvissery wat aansienlike beleggings in prosesseer-en bemarkingsfasiliteite in Kaapstad en Port Elizabeth gemaak het, gepenaliseer sal word nie.
i Onbetaalde heffings
Regtehouers sal gepenaliseer word indien hulle heffings agterstallig is vir 'n tydperk langer as 60 dae vanaf die datum van die aansoek nie.
Aansoekers wat versuim om te voldoen aan hulle verpligtings ingevolge die Wet op Vaardigheidsontwikkeling, 97 van 1998 en die Wet op Heffing van Vaardigheidsontwikkeling, 9 van 1999, en diegene wat geringe oortredings van die WLMH begaan het (d w s oortredings wat nie hulle uitsluiting regverdig nie) sal gepenaliseer word.
Kwantumkriteria
Ten opsigte van regtehouers sal die Departement die 2005-toekennings as basis gebruik, proporsioneel die TTV van regtehouers wat uitgesluit is, byvoeg en dan die volgende meganismes vir herverdeling toepas:
Transformasie-poel: 10 persent van die diepsee stokvistreilvissery se TTV sal herversprei word ooreenkomstig punte vir transformasie;
Prestasie: 20 persent van die diepsee stokvistreilvissery se TTV sal herversprei word, oreenkomstig die oorkoepelende vergelykende balanseringspunte wat elke suksesvolle aansoeker behaal het (behalwe transformasie);
Klein-en medium-grootte ondernemings: 10 persent van die diepsee stokvistreilvissery se TTV sal opsy-gesit word om suksesvolle aansoekers wat klein-of medium-grootte ondernemings het te bevoordeel. Klein-of medium-formaat entiteite word gedefinieer as dié met 'n jaarlikse omset van nie meer as R5 miljoen vir die medium-formaat en R3 miljoen vir die klein-formaat onderneming nie.
Enige suksesvolle nuwe aansoeker sal die kleinste hoeveelheid toegeken word wat aan 'n suksesvolle regtehouer toegeken word.
Geskikte vaartuie n Geskikte vaartuig vir die diepsee stokvistreilvissery is 'n vaartuig wat
By SAMVV gesertifiseer is met 'n minimum geregistreerde lengte van ongeveer 30 meter;
Toegerus is om met die treilnetmetode vis te vang; en
Toegerus is met 'n werkende vaartuigmoniteringstelsel.
Multi-sektorale betrokkenheid
Regtehouers in die diepsee stokvistreilvissery word nie daarvan uitgesluit om regte in enige ander vissery in die Groep A-en Groep B visserye te hou nie. Regtehouers in die diepsee stokvistreilvissery (insluitende hulle beherende aandeelhouers en lede van hulle uitvoerende bestuurspan) sal nie toegelaat word om kommersiële visvangregte in die Groep C-en Groep D visserye te hou nie. Hierdie sektore word gereserveer vir vissers wat op die visbron staatmaak vir hulle inkomste of die grootste deel van hulle inkomste.
Aansoekgelde en heffings
Die aansoekgeld vir die diepsee stokvistreilvissery sal vasgestel word met inagneming van die volgende:
die koste van die algehele regtetoekenningsproses, met inbegrip van konsultasie, ontvangs, evaluering van aansoeke, verifikasie, appèlle en hersienings. In hierdie verband sal die koste aangegaan gedurende die mediumtermyn proses as riglyn dien; en die waarde van die vis wat toegeken word oor die duurtyd van die reg.
Die jaarlikse heffings wat betaalbaar is met ingang vanaf 1 Januarie 2006 sal hersien word na oorlegpleging met die geaffekteerde en belanghebbende partye.
Die bestuursmaatreëls wat hier onder bespreek word verwys na sommige van die Departement se hoofvoornemens vir die bestuur van hierdie vissery nadat regte toegeken is.
Ekosisteembenadering tot bestuur van vissery
Hierdie vissery sal bestuur word ooreenkomstig die ekosisteembenadering tot die bestuur van visserye (EBV). 'n Ekosisteembenadering tot die bestuur van die vissery is 'n holistiese en geïntegreerde beleid wat erkenning gee daaraan dat visvang en verwante aktiwiteite op land die breë mariene omgewing kan beïnvloed. Hierdie deel van die beleid vir die diepsee stokvistreilvissery, is egter nie daarop gerig om 'n beleidsverklaring te maak oor EBV in die diepsee stokvistreilvissery nie. Die EBV in die diepsee stokvistreilvissery sal verder uiteengesit word in die Bestuurshandboek vir die Diepsee Stokvis-treilvissery. Suid-Afrika bly verbind tot 'n teikendatum van 2010 vir die inwerkingstelling van 'n EAF in die kommersiële vissery.
Konsolidasie van deelnemers
Na die toekenning van kommersiële visvangregte vir 15 jaar in hierdie vissery sal die Departement die konsolidasie van aktiewe regtehouers in die vissery fasiliteer, veral waar:
Regtehouers dieselfde aandeelhouers, kantore of bestuurspan deel; of
Kleiner regtehouers verkies om hulle sakebedrywighede te konsolideer.
Konsolidering van regtehouers is egter onderhewig aan die Departement se benadering tot monopolieë (sien paragraaf 11.5 hier onder).
Bestuursgebiede van visvangbedrywe en mariene beskermde gebiede
Die diepsee stokvis-treilvissery teiken twee soorte stokvis langs die Kaapse wes-, suid-en suidooskus. Indien die voorgestelde Namakwalandse Mariene Beskermde Gebied gevestig word, sal die oes van stokvis effektief verdeel word in drie aparte gebiede aangesien treilvisvangbedrywighede langs die weskus na die noorde en die suide van die MBG verdeel sal word.
Die Departement is ook van voorneme om die deel van visvangebiede deur stokvistreil-en stokvis-langlynvissers te ontmoedig. Artikel 15 van die WLMH maak voorsiening vir die verklaring van visvangbestuursgebiede. Die Departement sal oorweeg om sodanige bestuursgebiede te verklaar in 'n poging om potensiële konflik tussen treilvissers en langlynvissers uit te skakel.
Vaartuie en vangspogings
Daar is tans 100 diepsee treilvaartuie vir stokvis wat in Suid-Afrikaanse waters vang. Die meerderheid hiervan is ouer vaartuie wat vervang moet word. Opgradering van die vloot mag 'n verhoging in die vangspoging tot gevolg hê. Die Departement sal die bykomende vangspoging as gevolg van verdere en nuwe vaartuie wat in die vloot ingebring word, met sorg evalueer. Regtehouers sal nie toegelaat word om vaartuie te gebruik wat in staat is om baie meer vangspoging te ontplooi as wat hulle in terme van hulle toekenning kan vang nie. Verder mag die Departement met die Bedryfsligaam van die Visvangsektor oorleg pleeg in verband met aansoeke om verdere of nuwe vaartuie in die sektor te benut.
Hoewel die Departement konsolidasie van regtehouers in die vissery sal aanmoedig, is die Departement gekant teen monopolieë wat tot nadeel van die kleiner regtehouers kan strek. Die Departement is veral bekommerd dat die kleiner regtehouers in die vissery nie in staat is om die waarde van hulle toekennings ten volle te realiseer nie. Op hierdie stadium sal die Departement nie 'n maksimum drempel van die TTV wat enige enkele regtehouer mag hou of beheer instel nie, maar sal moniteer of enige groot regtehouers op 'n wyse optree wat strydig is met billike mededingingspraktyke.
Die huidige TTV-verhouding van treilvissery : langlynbedryf sal oor die algemeen behou word. Die verhouding mag egter hersien word indien verdere data oor die impak van die onderskeie bedrywe beskikbaar word.
Prestasiemeting
Die Departement sal 'n aantal formele ondersoek instel om prestasie in die benutting van regte te meet. Daar word beoog om die eerste prestasiebepalings na twee jaar uit te voer en daarna elke drie jaar.
Hoewel die Departement die presiese kriteria waarteen regtehouers gemeet sal word, na die toekenning van kommersiële visvangregte en na oorlegpleging met regtehouers sal finaliseer, kan die volgende breë prestasie-verwante kriteria gebruik word:
transformasie;
belegging in vaartuie, fabrieke en toerusting;
volhoubare gebruik en veral byvangstetempering en -vermindering, en die biologiese en ekologiese gevolge van treilvisvang;
wetsnakoming van toepaslike wette en regulasies.
Waarnemerprogram
Die Departement se huidige waarnemerprogram sal uitgebrei word om waarneming vir wetstoepassingsdoeleindes in te sluit. Verder sal die Departement die waarneming van hierdie vissery stelselmatig uitbrei. Van regtehouers sal verwag word om die koste van die waarnemingsprogram te dra.
Permitvoorwaardes
Permitvoorwaardes vir hierdie vissery sal jaarliks uitgereik word. Die permitvoorwaardes van toepassing vir hierdie vissery vir die 2005-seisoen word as Bylae A aangeheg. Belanghebbende en geaffekteerde partye word uitgenooi om op hierdie permitvoorwaardes kommentaar te lewer.
